Mineraalvoeding vir sterker eierdoppe

ot 90% van die eiers wat afgegradeer word en nie heel as vars eiers verkoop kan word nie, is eiers wat gekraak is. Daarom speel eierdopgehalte ’n noemenswaardige rol in die ekonomie van ’n lêhoenderplaas.

Henne se ouderdom speel ’n groot rol in dopgehalte, aangesien die gehalte afneem namate die hen ouer word. Die eiers wat sy lê, raak ook al hoe groter. Tydens die laatproduksiesiklusse van ’n hen kan tot 20% van die eiers gekraak voorkom.

Deesdae moet lêhenne langer in produksie wees as voorheen, wat weer lei tot al hoe groter eiers en al hoe dunner eierdoppe. Dit raak dus belangriker om op die verbetering van dopgehalte klem te lê.

’n Rantsoen vir ’n lêhen moet voldoende kalsium (Ca), fosfor (P) en spoorminerale bevat. Voer moet ook met die regte voermetode toegedien word.

MAKROMINERALE

Wat chemiese samestelling betref, bestaan die eierdop uit tot 95% kalsiumkarbonaat. ’n Voldoende hoeveelheid kalsium in die voer is dus noodsaaklik vir dopgehalte. Ongeveer 10% van ’n lêhen se liggaamlike kalsium word daagliks na die eier oorgedra om eierproduksie vol te hou. Die hoeveelheid kalsium wat die hen benodig, verander tydens die produksiesiklus en verhoog ook namate die hen ouer word.

Net soos die regte hoeveelheid kalsium in die voer belangrik is, is daar verskillende voermetodes om seker te maak die hen neem voldoende kalsiumvlakke in, byvoorbeeld verdeelde voeding en middernagvoeding.

Kalsiummetabolisme bereik twee keer per dag ’n hoogtepunt. Die eerste hoogtepunt gebeur wanneer die medullêre been gemineraliseer word, ongeveer ses uur nadat die eier gelê is. Die medullêre been dien as ’n kalsiumbron waaruit die volwasse hen vinnig kalsium vir die vorming van eierdoppe kan verkry.

Die tweede hoogtepunt vind ongeveer 10 uur later plaas, dus 16 uur nadat die eier gelê is. Dit is tydens die verkalking van die eierdop.

VOERREGIME

Die doel van verdeelde voeding is om die hen op presies die regte tye van die dag van die regte voedingstowwe te voorsien.

In navorsingstudies waar henne ’n vrye keuse gegee is om te kies wat hulle wil inneem, het navorsers bevind dat energie- en proteïeninname in die oggendure hoër was, terwyl kalsiuminname teen die einde van die dag verhoog het. Dit is in ooreenstemming met die vorming van die eierwit en -geel in die vroeër oggendure, asook die verkalking van die eierdop wat gewoonlik later in die dag paasvind.

Die verdeeldevoedingsmetode bevredig dus die hoender se fisiologiese behoeftes deur in die oggend en die aand twee verskillende rantsoene te voer.

Die alternatief is om middernagvoeding toe te pas om die hen te stimuleer om in die middernagtelike ure in die kalsiumbehoeftes van die tweede hoogtepunt te voorsien.

SPOORMINERALE

Verskeie spoorminerale is van belang vir goeie dopgehalte, waaronder sink (Zn), mangaan (Mn) en koper (Cu). Hierdie spoorminerale beïnvloed die organiese matriks van die dop en het dus ’n invloed op die meganiese eienskappe van die eierdop.

  • Sink vorm deel van die koolsuuranhidrase- ensiem, wat kalsium- ione tydens eierdopvorming verskaf.
  • Mangaan aktiveer die glikosieltransferase- ensiem, wat betrokke is by die vorming van mukopolisakkariedes en deel vorm van proteoglikans. Laasgenoemde kom in die dopmatriks voor en vorm dus ’n integrale deel van die struktuur en tekstuur van die eierdop. ’n Rantsoen met ’n mangaantekort kan tot die vorming van eiers met dunner doppe lei.
  • Koper vorm deel van die lisieloksidase- ensiem, wat ’n deurslaggewende rol in kollageenvorming in die eierdopmembrane speel. ’n Kopertekort kan lei tot eiers wat abnormaal gevorm is.

Die aanvulling van hierdie spoorminerale word aanbeveel teen 60 mg Zn per kg, 60 mg Mn per kg en 10 mg Cu per kg. Verskeie studies het bewys dat hierdie vlakke van minerale tot ’n verbetering in die breekweerstandigheid van eierdoppe lei en die hoeveelheid eiers met krake noemenswaardig verminder.

Lees volledige artikel

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *