Positiewe effek van sink
’n Navorsingsproef by die Universiteit van Wyoming (2009) het sink in organiese vorm met Zinpro se Availa-Zn® aangevul by ooie 40 dae voor lam teen 80mg sink/kop/dag. Kolostrumgehalte het verbeter deurdat die IgG-vlakke toegeneem het. Die speentempo het ook met 10% toegeneem, wat heel moontlik aan die verbeterde kolostrum toegeskryf kan word. Ooie wat die addisionele organiese sink ontvang het, het minder tekens van kliniese mastitis getoon en vinniger herstel. Die kontrolegroep het ’n groter afname in stapelsterkte en vesel-deursnee gehad as die ooie wat die organiese sink ontvang het. Die aanvulling van sink het dus ’n groot rol om te speel tydens die dragtige periode, waar tengerwol en breekwol gewoonlik problematies is. In ’n tweede studie deur Kegley en Spears (1995) het dragtige ooie vir die laaste 30 dae voor die lamseisoen regdeur tot met speen 50mg organiese sink ontvang (Availa-Zn®), teenoor die kontrolegroep wat dieselfde vlak sink maar van anorganiese bronne soos sinkoksied ontvang het. Van die lammers wat uit die ooie gebore is, is aan speenskok onderwerp en oor lang afstande vervoer, waarna hulle in ’n voerkraal geplaas is en 25mg sink (Availa-Zn®) of 25mg sink vanaf sinkoksied ontvang het. Die ooie wat Availa-Zn® ontvang het, het minder distokia ondervind. Lammers van die ooie wat Availa-Zn® gevoer is, het ’n hoër GDT (p< 0,01) gehad tydens dag 0-69 teenoor die kontrolegroep. Lammers wat in die voerkraal geplaas is en onder groot stres gebuk gegaan het, het laer serum-kopervlakke gehad, wat ’n aanduiding is dat hulle die stres beter hanteer het, aangesien diere onder strestoestande hul koper uit die lewer onttrek en in die bloed stort, wat hoër vlakke tot gevolg het. In ’n derde studie by die US Sheep Experiment Station in Dubois het ooie 30 dae voor die lamseisoen en vir 42 dae regdeur tot na lam ’n proteïen-aanvulling met of sonder Zinpro Availa-Zn® ontvang. Ooie op die Availa-Zn®-behandeling het ’n höer DMI gehad in die laaste 30 dae van dragtigheid. As gevolg van die verhoogde voerinname was die totale sinkinname van die groep ooie 40% hoër as die kontrolegroep. ’n Soortgelyke waarneming is deur Hatfield (1992) gemaak, waar voerkraallammers wat Zinpro-sink ontvang het meer gevreet het as die kontrolegroep sonder sinkaanvulling. Melkproduksie op dag 28 was ook hoër by die Zinpro-ooie as die kontrolegroep (p = 0,09). Die resultate stem ooreen met navorsing by melkbeeste, waar melkproduksie met 6,16kg toegeneem het met die aanvulling van Zinpro-sink (p = 0,01). Lammers se GDT was hoër by die Zinpro-gevoerde ooie op dae 28, 42 en 59 oud (p< 0,03). In ’n proefneming by die Universiteit van Missouri, Columbia, het teeloeie 80mg sink vanaf Availa-Zn® ontvang vir 60 dae, waarna klougesondheid ondersoek is. Klousere en -letsels het met 43% afgeneem oor die 60-dae periode. Organiese sinkaanvulling by ooie word dus aanbeveel teen 0,4g Availa-Zn® per dag tydens dragtigheid regdeur tot met speen. Addisionele sinkaanvulling verbeter kolostrum-gehalte, klougesondheid, wolgehalte van dragtige ooie, groei by lammers en verseker dus verhoogde opbrengs vir die produsent.Chemuniqué empowers feed and food producers with the most innovative animal performance solutions, enabling our clients to consistently advance the efficiency of production.